Here, ek kom staan sommer so magnesiumlint verlig
met die reën teen my gesig
en wens dat ek my dwaashede en foute en vuil
kon ongedaan huil
want, Here, hoe meer ek worstelend soek
word die pad weer 'n hoek
waarteen ek my telkens te pletter loop
soos een van hoop
gestroop uitgelewer aan sy vyande en vriende
gewapen met onverdiende
vlymskerp woorde terg genadeloos die verkleurmannetjie smart
in my stukkende hart
my God, my God, laat U my maar 'n oomblik aan myself oor
is hierdie stryd onmiddellik dom-alleen verloor