die wind ruik water
wat dors nie kan les
raak rasend oor krake
vol mossel ... ver wes
stu golwe: die kim krom
sy rug soos 'n reuse vis
rotsvas slaap die kom
in die saggroen arm
van die suidkaap
die vrou fynkam die waterwig
tussen sand en mis
haar klipkarveel kraak nie
niks is in sig
selfs haar skaduwee
skuil in haar lyf
sy beur traag terug
die wind sirkel om haar
: 'n honger haai
hy besnuffel haar treë
lek aan haar wimpel
van stilte
les so sy dors
en gaan lê met 'n sug
uitgeput
teen haar bors
Wow! Ek hou nie van ontledings nie maar ek het sommer hardop gesit en dink/tik terwyl ek lees. Daar waai ‘n sterk wind (seker Suidoos) wat oor die see (souwater wat nie dors kan les nie) land toe kom. Ek sien ‘n vrou sit op ‘n rots (klipkarveel wat nie kraak nie). Sy kyk na die see (waterwig tussen sand en mis) op die middag (sy gooi nie skaduwee nie, skaduwee skuil in haar lyf, maar laasgenoemde kan ook ‘n gemoedsstemming wees). Sy beur teen die wind (“traag, terug” is baie mooi, hoor). Sy sien haarself as fisiese windbreek maar daar skuil sekerlik iets metafisies en dieper in die hele windbreek-beeld. Dit lyk asof die vrou die stryd teen die wind gewen het. Soos enige gedig kan dit verskillende dinge vir verskillende mense beteken. Ek hou van agtergrond van die see en die groen Suidkaap. Ek hou van die rym-einde en sommer van die hele gedig.