'n kommetjie
al breek dit
bly behoue in die gees
en lyf:
die heuglike onthou
van lig wat speel
oor porseleindun blou
en die behaaglike
warm sluk van winter
om hierdie lewe
sinvol te besit
moet jy dit in jou hande
skink
en
drink
bo-oor die bars
van pyn se splinter
Liefste Myra,
Ek sien jou voor my geestesoë - bakhand. Jy skep gulsig, haastig en vasberade...
Maar jou kommetjie-hande is nie vir jouself volgemaak nie: jy haas jou om by vriend en vreemdeling uit te kom wat angstig wag dat hul eie kommetjies mettertyd sal heel.
Ook ek moet dankie sê - my dors is genoegsaam geles om weer my kop op te lig en moed te skep!
Jou bewonderaar
Jaco Ackermann