VROU IN N WOUD

net die bome kyk vir haar

met deursigtige reënboogvliese

gedruppel op elke blaar

die vingers van 'n mosgroen varing

vou om 'n kwetterende droom

haar mond gevul met heuning

vorm ontkiemde woorde



sy was haar hande

in 'n kom met melkwit room

en laat dit droog tot tweede vel

daarna keer sy geheilig terug

terwyl die woudvolk sag vertel

van voetpaaie en vrye vlug

en ander onbetrede oorde



die vasgevange tyd

begin weer tik ... tik ... tik ...

sy neem afskeid:

knielend langs die bergbruin stroom

laat sy die helder hede vry

om môre se wagtende oewers

met spoelgoud te bevrug

Author's Notes/Comments: 

Ek stap nie graag op gebaande weë nie ... in die bos vang ek die tyd vlietend vas en verdroom dit ... onbetrede oorde ...

View myrataal's Full Portfolio
tags:
Org Naudé's picture

Liewe Myra, Die feetjies en dwergies van die woud (woudvolk) knik met goedkeuring hul koppies oor "...voetpaaie en vrye vlug en ander onbetrede oorde ..." en "... om môre se wagtende oewers (steeds) met spoelgoud te bevrug" Die woud roep weer! Org N

. Donkerman's picture

Myra Ai... Ja, vir daardie paar oomblike was ek ook weer daar - in my bos waar ek dalk nooit weer sal loop nie. Groetnis Donkerman