o my geliefdes
hoe kan ek julle vertroos
as julle soos sterre so ver is?
ek wil julle tel
soos 'n hen haar kuikens
vir julle wat soos winde verspreid is
wil ek liefkoos en soos kinders sus
is dit moontlik om die wind
of 'n kind vas te hou?
moontlik om julle soos sterre te tel
sonder begrip van getal
en julle toe te vou
onder sorgsame vleuels?
ek kan julle nie meer aanraak nie:
nie met my helende hande nie
nie met my liefdevolle oë nie
nie met die voedsel van my tafel nie
nie met die knoppies aan my roosstruik nie
ook nie met my gewyde woorde nie
my trane het 'n dowwe snoer geword
my hartstog 'n halfgedrinkte kelk
my vrede het 'n vergete hawe geword
my vreugde 'n skadublom wat ongesiens verwelk
soggens stotter die voëls my wakker
soek die son na jul verdwaalde spore
hoor my oerversugting:
ek wil die tortels van my gebede om julle vlerk
met my gepluimde drome vir julle 'n tuiste bou
kyk: in jul are sal julle die geboorte
van my gedagtes bemerk:
met as nagedagte
'n nedersetting
van onthou
Myra So 'n hartseer gedig - baie pyn... Groetnis Donkerman