(in die verbygaan)
dit was 'n doodgewone dag
die pad het oorbekend gekronkel
deur my drome verlange het die Poort
aanloklik vir my oop laat gaan:
ek kon Ma-Ada daar sien staan
in Ruiterbosch se oorryp boord
haar hande voel-voel na 'n pruim
vir my ... haar swygsame klein spruit
sy het die dofrooi vruggie na my uitgehou
maar voordat ek kon vat vervloei sy
in 'n miswolk teen die motorruit ...
dan sien ek dit!
'n afgetrokke pa haastig aan't stap
'n uitgeteerde ma met baba op die heup
wat hink om by te hou ...
die tenger kind
wat op 'n drafstap in wil haal
maar skielik tou-
opgooi en op 'n hopie
neersak
om te huil ...
die reis het skielik stroef
geword:
ek bly steeds kniel
daar langs die pad -
my soetrooi pruim te ruil
vir glimlaggies deur trane
maar die vergete kindjie
wil nie vat