stil my wit huis
met die kerkhoë
dak: dis net die winterwind
wat noklangs huil
en snags die onsigbare uil
wat vraende drome verwoord
deur sy mono-sillabiese "hoe?"
in te ryg
soos die geelronde dubbeldore
van sy alwyse oë:
hoe (beantwoord ons vrae)
hoe (besweer ons vrese)
hoe (droog ons trane)
hoor die weerklank
van verlange
wat in die wind
se tonnel skuil
stil my wit huis
stil: dis net my hart
wat huil