die dood van 'n uil

deur die stilte bars die doodse slag

van vleis en been

teen ongenaakbare staal

bande skree

honde blaf

'n stem of twee



“Hulle't 'n diertjie raakgery.”



hy lê langs die pad

vlerke oopgesprei

kloue gereed vir die aanval

majestueuse skoonheid



'n veerligte lykie in my arms



wysste van die diereryk,

hoe't jy dan vanaand

vir jouself boodskapper gespeel?



my hart het vannag 'n nes

vir hierdie uilkind geword:

hoe verwerk ek dood?

hoe vergeef ons mekaar?

hoe maak alles sin?

hoe gaan ek aan?



hóé

hóé-hóé

hóé

View roosblaar_drinkwater's Full Portfolio